FYI.

This story is over 5 years old.

Μουσική

Kombuistaal Rock

Afrikaans was bietjie meer as 'n eeu gelede bekend as "kombuistaal", ondergeskik aan Engels en Hollands, iets wat gefluister is tussen die oond en die opwasbak.
EG
Κείμενο Erns Grundling

Photo by Leon Oosthuizen

Afrikaans was bietjie meer as ‘n eeu gelede bekend as "kombuistaal", ondergeskik aan Engels en Hollands, iets wat gefluister is tussen die oond en die opwasbak. Vandag is dit natuurlik heeltemal anders, maar ons het weer eens ‘n Kombuistaal—by name van die legendariese Koos Kombuis. Hy het reeds in die vroeë 80's begin naam maak as die skrywer/digter André Letoit, en sy Somer II word as die eerste volwaardige punk-roman in Afrikaans beskou. Na ‘n aantal jare as skrywer het hy die kitaar opgetel en ‘n kasset, Ver van die ou Kalahari (1987), by die destydse Shifty Records opgeneem. Sy eerlike, openhartige lirieke en driftige protes teen die Apartheidsregering was deel van die proses wat gelei het tot die Voëlvry-beweging—‘n waterskeiding in plaaslike musiek waar Afrikaans vir die eerste keer begin gatskop-rock het. Saam met Bernoldus Niemand en Johannes Kerkorrel het hulle kampusse in 1989 op hol gehad, en ‘n nuwe geslag fans is oornag gebore. In die 90s het hy begin optree en skryf onder die naam Koos Kombuis, en waar hy eers gemarginaliseerd was en meer aanklank by die rebelse jeug gehad het, het sy musiek die breër publiek begin bereik. Songs soos "Lisa se klavier", "Bicycle sonder ‘n slot," "Huisie by die see" en "Johnny is nie dood nie" is so bekend en gewild soos biltong op Nuweland. Koos het dit beslis nie altyd maklik gehad nie. Lees gerus sy (soms skreeusnaakse) topverkoper outobiografie Seks, Drugs en Boeremusiek om meer van die persoon agter die legende te leer. Die laaste aantal jare het Koos sy roekelose en boemelaarsbestaan van ouds vaarwel geroep, getrou met sy geliefde Kannetjie en ‘n gesin begin. Hy skryf ook meer deesdae, en sy omstrede boek The Secret Diary of God het met sy verskyning in 2003 vir groot polemiek gesorg onder die meer konserwatiewe lesers. Hy skryf deesdae gereeld rubrieke vir die Sondagkoerant Rapport en die aanlyntydskrif LitNet (www.litnet.co.za) en het reeds twee rubriekbundels uitgegee. Einde laasjaar het hy ook saam met Valiant Swart die album Jaar in die Son opgeneem, wat heelwat nuwe materiaal bevat. Koos is Doning, dit kan julle maar glo!